AfriForum is tans op soek na ’n raadgewer vir Plaaslikeregeringsake wat by die AfriForum-hoofkantoor in Kloofsig, Centurion gebaseer sal wees.

Die doel van die pos is om raad te gee en opleiding te bied aan AfriForum-gemeenskapslede in verband met plaaslikeregeringskwessies wat gemeenskappe raak en die reg van toepassing daarvan. Om nasionale plaaslikeregeringsakeprojekte wat die selfstandigheid en volhoubaarheid van gemeenskappe bevorder, te identifiseer, beplan en koördineer.

Die minimum kwalifikasies en ondervinding sluit in ’n LLB-graad, ’n politieke graad of kwalifikasie in stadsbestuur wat stad- en streeksbeplanning insluit, asook ’n minimum van twee jaar werksondervinding in die hantering van plaaslikeregeringsake en die organisering van gemeenskappe.

Die suksesvolle kandidaat sal verantwoordelik wees vir die volgende aspekte:

  • Lei van die plaaslike regering se portefeuljekomitees om selfstandigheid van gemeenskappe te bevorder.
  • Aanbied van raad en gee van leiding aan die plaaslike regering se portefeuljekomitees.
  • Identifisering van plaaslikeregeringsprojekte wat die selfstandigheid en volhoubaarheid van gemeenskappe bevorder.
  • Deeglike beplanning van plaaslikeregeringsprojekte wat ’n media-, bemarking- en ledewerwingstrategie insluit.
  • Koördinering en uitvoering van plaaslikeregeringsprojekte.
  • Ontleding van resultate van nasionale plaaslikeregeringsprojekte.
  • Ondersteuning van die opstel van verslae gebaseer op plaaslike regering se nasionale projekte.
  • Bou van verhoudings met alle relevante AfriForum-takke, personeel en enige ander rolspelers.
  • Deelname aan beplanning en uitvoering van plaaslikeregeringsake se nasionale en provinsiale aksies.

Ons is op soek na ’n kandidaat wat betroubaar en eties is met uitstekende interne en eksterne kommunikasie-, probleemoplossing-, sowel as administratiewe en organiseringsvaardighede. Die vermoë om te motiveer en inspireer sal ook tot jou voordeel strek.

Aansoeke moet voor of op 20 September 2024 ingedien word.

Indien jy nie binne drie weke ná die sluitingsdatum terugvoer ontvang nie, kan jy aanvaar dat jou aansoek onsuksesvol was.